Met so ‘n titel sal mens wonder of hierdie storie oor kannibale is. Of dalk verwys dit na die omies met hul khaki klere in die Kalahari, wat so lief is vir braaivleis en biltong. My storie gaan wel oor ‘n land ‘n “bietjie” verder van daar, B.A. Dit staan nie net vir Buenos Aires nie, vir my beteken dit ook Bekostigbare Argentinië. En is B vir bekostigbaar nie juis wat die gemiddelde reisiger soek nie? My mond hang soms oop as ek sien wat mense vir ‘n kampeerplek in Suid-Afrika betaal in ‘n gewilde reservaat. Vir dieselfde geld kon ek en my vrou vir twee nagte se verblyf in Argentinië betaal, bed, privaat badkamer en ontbyt ingesluit. ‘n Vakansie in die buiteland klink vir baie soos iets wat net die “ryk mense” doen, maar oom, werk nou uit hoeveel jou 4x4 se slytasie, jou kamp geld en die stygende petrol prys jou werklik uitwerk en besef dan om saam met die tannie bietjie “oorsee” te gaan is toe nou nie so duur soos wat julle gedink het nie.

Argentinië is uitgespan oor 6000km en net soos jy nie die hele Suid-Afrika in 3 weke gaan verken nie, sal jy hier nog minder regkom in ‘n kort tydjie. Jy sal moet kies waarheen jy gaan, noord of suid. Is dit jy, jou warm baadjie (en effens dikker beursie) en die aanskoulike natuur van Patagonië of eerder jou visplakkies, sonbrandolie en die sub-tropiese tot woestynagtige noordelike dele. Die musiek van “The Mission” (fliek met Robert de Niro) en hoe die Iguazu watervalle in die fliek vasgevang is, het ons in ‘n noordelike rigting getrek. #gotoArgentina
Iguazu waterval, gesien van die Argentinië kant af

Dinge om te doen in Argentinië:


Beleef drie lande in drie dae

Die Iguazu watervalle is ‘n wêreld-erfenis gebied en op die Rio Iguazu (rivier) gelee, wat Brasilië met Argentinië skei. Nog ‘n rivier sluit in die dorpie by Rio Iguazu aan en hier kan mens Paraguay aan die oorkant sien. Gaan kyk na die watervalle eers van die Brasilië kant af. Dit gee jou die groter geheelbeeld van die 275 watervalle. Busse gaan daagliks oor die grens en neem jou reguit na die nasionale park, waar jy jou aansluit by duisende besoekers wat ook hierdie asemrowende natuurverskynsel wil beleef (as jy kan, gaan eerder deur die week). Ons het deur ‘n woud gestap en die gedruis gehoor, maar al het ek geweet die watervalle kom nader, het die eerste uitsig oor die valle steeds my asem weggeslaan, die skoonheid onbeskryflik (en onmoontlik om ordentlik vas te vang op kamera).

Gee jouself nog twee dae om hierna die watervalle aan die Argentinië kant te beleef. Hier kom ‘n mens baie nader aan die watervalle, dit lyk anders en word anders beleef. Diablo (die Duiwel se keel) kan ook die beste van hierdie kant af gesien word. #gotoArgentina
Die duiwel se keël (Diablo)

Die soutpanne van Salta

Van tropies tot woestyn in twee ure - ons het ‘n kortpad luglangs van Iguazu na Salta geneem. Die populêre ding om te doen is om die “Tren de las Nubes” (die trein na die wolke) te neem wat teen die berg opkruip tussen die woestynagtige berge, met kaktusse wat lyk soos Victor Matfield wat opgetel word in ‘n lynstaan, 4m hoog. ‘n Alternatief is om ‘n toergids te kry wat ‘n soortgelyke pad as die trein neem, maar wél stop vir fotos, anders as die trein. Ons het ‘n sirkel roete via die “Salidas Grandes” soutpanne geneem saam met 'n toergids, so jy kry meer te sien as met die trein, dit kos minder en hy wys jou pragtige plekke wat jy nooit op jou eie sou kry nie. #gotoArgentina
“Salidas Grandes” soutpanne

Na ‘n hoogte van 4170m bo seespieël en ‘n gehyg na asem soos ‘n ou wat al 40 jaar lank Texan Plains rook het ons weer begin sak. Ons eindig ons die dag deur tyd te spandeer in Purmamarca, langs die berg van sewe kleure, met markte net so kleurvol as die berg, as gevolg van die Boliviaanse invloed in die noorde van die land. #gotoArgentina
Die berg van sewe kleure (Cerro de los Siete Colores)

Kies ‘n dorp en gaan net

Dit klink dalk heeltemal onmoontlik vir sommiges, wat elke vakansie haarfyn beplan, maar laat ruimte in jou toer om iets te doen wat jy nie vooraf beplan het nie. Onthou, Google gee nie die hele prentjie nie en vertel nie van al die interressante klein plekkies op jou roete nie, al doen jy hoeveel navorsing vooraf. Ons het op een so ‘n klein plekkie, La Rioja afgekom. In een museum het ons ‘n uitstekende tolk gehad, wat ons ervaring van ‘n museum aansienlik beter gemaak het as wat dit sou wees as ons op ons eie daar deurgeloop het, met die ryk agtergrond wat hy van die Argentynse geskiedenis het en die manier hoe hy dit aan ons beskryf het. Ons het siesta in ‘n park en was daarna weer oppad. ‘n Manier hoe ons ons rande kon rek is om oornagbusse (volop in Argentinië) te neem na die volgende plek en aan die einde van ons dag hier, na ons besoek aan die supermark, moes ons weer op die bus klim oppad suid. #gotoArgentina
'n Restaurant in La Rioja

Stellenbosch op “steroids”

Mendoza is ‘n Argentynse Stellenbosch. Die wyn is dalk nie so goed nie (behalwe as jy hou van Malbec), maar met die dorp wat lê aan die voet van die Andes, is dit enige avonturier se droom. Op die Rio Mendoza kan jy met spoed op die koue waters wat uit die Andes vloei gaan roei saam met 'n gids. Vir die hardebaarde is daar die geleentheid om die Amerikas se hoogste piek, Aconcagua, uit te vaar (slegs in die somer). Jy kan ook gaan wynproe op ‘n fiets (raak meer van ‘n avontuur na elke plaas) of die adrenalien laat pomp met 1200m se verskillende “foefie slides”. Ons het ‘n ou goudmyn gaan verken, in die tyd wat die Chilene “net” aan die ander kant van die berg vasgesit het, wat dit nogals ‘n intimiderende ervaring gemaak het, aangesien die myn reeds 100 jaar oud is. As jy eerder in styl wil wynproe en lekker eet, kan jy ‘n Royal Enfield motorfiets huur vir ‘n dag en die gids sal jou van die beste plekke in Mendoza gaan wys (vir die omie met die groot boep en dik beursie). #gotoArgentina
Links is Aconcagua en regs is San Bernardo, 4320m bo seespieël

Pik ‘n traan vir my, Argentinië

As Parys die stad van liefde is, dan is Buenos Aires seker die stad van passie. In ‘la Boca’, waar die bekende (berugte) Maradonna groot geword het, dans die mense die Tango op die strate. Restaurante reël dansers en musikante om deur die besige tye van die dag buite op die straat te speel, om toeriste te trek. In die middestad sal jy bedien word met die beste vleise waarvan jy kan droom, onder andere ‘asado’, ‘n tegniek van vleis gaar maak wat soortgelyk is aan ons spitbraai. Boek ‘n tango vertoning in die middestad en jy word bederf met die beste Tango dansers en ‘n goeie maaltyd en wyn by die prys ingesluit. Op ‘n Sondag oggend kan jy jou laat oorweldig deur oud en nuut by die mark in San Telmo (hou net jou beursie styf vas, toeriste wat te voet rondloop in die agterstrate word geteiken - vra my).

Reg deur die land het ek gesmul aan vleis van uitstekende gehalte. Daar was op 'n kol meer beeste as mense in die land, so hulle WEET hoe om die smaaklikste stuk beeshaas voor te berei. Oom, dis regtig iets om oor huistoe te skryf. #gotoArgentina
Tango tyd in La Boca en regs 'n musikant wat lewe in die skadus van Carlos Gardel

Wenke:

Gaan doen 'n stap toer in Beunos Aires. Dis 'n uitstekende manier om deur die stad te stap en te hoor van die ryk geskiedenis. Hul besoek ook 'n begraafplaas. Dit klink vreemd maar dit is baie interessant. http://www.buenostours.com

Huur 'n klassieke Royal Enfield in Mendoza en vra die eienaar om jou na 'n paar gesogde wynplase te neem, wat nie op die gewone toeris se lysie is nie. http://www.rentalmotorbike.com/motorbike-rental-mendoza

Leer 'n paar spaanse woorde voor jy gaan. As jy kan tel help dit jou net soveel meer in die markte, sodat jy darem 'n idee het wat dinge kos, want handgebare en syfers werk nie lekker saam nie. Moenie saans rondloop in stiller strate nie. Toeriste staan uit en alhoewel dit baie veilig voel bly jy 'n teiken en Beunos Aires bly 'n stad.

Busse is die beste manier van vervoer tussen stede. Gebruik hierdie webtuiste om 'n beter idee te kry van pryse http://www.plataforma10.com/ . Doen jouself 'n guns en boek eenkeer 'n luukse sitplek. Dit is so luuks soos 'n besigheidsklas vlug en hul bedien selfs sjampanje.

Did you click on this blog and was hoping to read it in English? If so, let me know below.
Laat my gerus weet wat jy gedink het van my avontuur in Argentinië.

Powered by 123ContactForm | Report abuse